Erken Kaapse Afrikaans as omgangstaal

Die debat oor Kaapse Afrikaans is baie belangrik vir die voortbestaan van Afrikaans. Die debat, wat onder leiding van Michael Le Cordeur van die Universiteit Stellenbosch begin is en ondermeer in Die Burger woed, is potensieel gevaarlik, maar kan ook buitegewoon goeie resultate gee.

Sommige mense, veral regse Afrikaners, sê Kaapse Afrikaans is die “kombuistaal se klein-kamertjie-weergawe” en beskou die tipe Afrikaans as inkorrek en verengels. Volgens Standaardafrikaans se reëls mag dit dalk so wees. Maar gaan die hele debat oor die status van Kaapse Afrikaans nie eerder oor die reg op die naam Afrikaans?

Mense vat ‘n blaaskans tydens die Oesparade in Stellenbosch (Foto: HelenOnline / Wikimedia Commons)

Waar wit mense in Suid-Afrika tot die middel van die twintigste eeu Nederlands kon praat (Smuts, Hertzog, Malan en Verwoerd het ook Nederlands gepraat) en pas in dieselfde eeu effektief oorgeskakel het op Afrikaans, praat die Kapenaars reeds vir eeue lank hul weergawe van Afrikaans.

Dit is ’n feit dat die huidige Standaardafrikaans vanuit ’n Nederlandse perspektief meer op Nederlands lyk as op Kaapse Afrikaans. Standaardafrikaans is niks anders as vereenvoudigde Nederlands, terwyl Kaapse Afrikaans danksy sy verskille in leksion, grammatika en Arabiese woordvolgorde ’n ander taal lyk. Dit is reeds wyd bespreek dat Standaardafrikaans meer op Standaardnederlands lyk as die meerderheid van die Nederlandse dialekte. Nederlandse dialekte, soos Limburgs, Twents en Seeus, word deurgaans nie as afsonderlike tale beskou nie, omdat die sprekers van die dialekte die Nederlandse standaardtaal as daktaal gebruik.

Dikwels word daar gesê dat Oranjerivier-Afrikaans en Oosgrens-Afrikaans dialekte van Afrikaans is. Feit is dat die weergawes van Afrikaans nouliks verskil van Standaardafrikaans. Die aksente sal dalk verskil (mense sê ek praat Afrikaans met ’n Vrystaatse aksent), maar die taal se eieskappe is dieselfde. Miskien moet dit oorweeg word om net Kaapse Afrikaans en Oorlams as volwaardige dialekte te beskou.

Dit is heilloos en baie gevaarlik om Kaapse Afrikaans, ten spyte van sy geskiedkundige regte, gelyk te trek aan die status van Standaardafrikaans. Afrikaans is ’n klein taal en sal ’n afskyding van sy Kaapse dialek met eie standaardreëls dalk nie oorleef nie. Anderkant kan en mag sprekers van Standaardafrikaans nie ontken nie dat Kaapse Afrikaans verskil van die standaardtaal.

As Kaapse Afrikaans as ‘n nuwe standaard erken word, sal Afrikaans skeur. Anderkant lyk die situasie tans op die diglossie-situasie van honderd jaar gelede tussen Nederlands en Afrikaans. Standaardafrikaans sal sy hand moet uitreik na Kaapse Afrikaans. Geskiedenis van Kaapse Afrikaans sal deel moet wees van Afrikaanse onderrigmetodes. Kaapse Afrikaans sal as vaktaal deel van die kurrikulum moet wees. Buite die vaktaal mag Kaapse Afrikaans egter nie die instruksietaal wees nie. Standaardafrikaans sal instruksietaal van vakke soos Geskiedenis, Wiskunde en Aardrykskunde moet bly. Standaardafrikaans sal – eerder as Engels – as daktaal van sprekers van Kaapse Afrikaans moet fungeer.

Want as die bande tussen Kaapse Afrikaans en Standaardafrikaans nie hernu word nie, sal sprekers van Kaapse Afrikaans die standaardtaal afskryf. Hulle sal Engels as daktaal gaan gebruik. Dit sal lei tot die ondergang van Afrikaans.

Net met die erkenning van Kaapse Afrikaans as volwaardige dialek van Standaardafrikaans kan die toekoms van die Afrikaanse taal gegarandeer word. Standaardafrikaanssprekers sal Kaapse Afrikaans moet respekteer as volwaardige omgangstaal. Sprekers van Kaapse Afrikaans moet deel bly van die Afrikaanse taalgemeenskap.

Anders sal die Kaap vir altyd Engels wees…

Advertisements

2 comments

  1. Ek hoop ook op een of ander soort eenheid, maar sal dit nie eers waag om iets soos “Buite die vaktaal mag Kaapse Afrikaans egter nie die instruksietaal wees nie” te sê nie (of selfs te dink nie!).
    As diegene wat Kaaps voorstaan, ‘n aparte pad van Standaardafrikaans wil loop, sal hulle dit doen, ongeag wat Standaardafrikaans se sprekers dink. Baie bruines like dit nie eers om ‘n wit Afrikaner se opinie te hoor nie, ongeag wat dit is. Ek het begrip daarvoor.

    Maar as die Kaap (en SA) sou verengels, beteken dit Britse kolonialisme het gewen. Net soos wat Irak en Afghanistan ook seker gaan verengels.

    Ek dink min bruines voel so oor verengelsing, en sien min tekens van ‘n weerstand teen daarteen onder hulle (ek hoop maar ek is verkeerd).

    • Juis, darem dink ek dat Standaardafrikaanssprekendes moet uitreik.

      Hoekom praat ek van die instruksietaal? As enigiets ‘n instruksietaal is, is dit ‘n standaardtaal. Ek sê Kaapse Afrikaans moet aanvaar word as omgangstaal, nie as standaardtaal nie.

      Ek stem saam met jou dat Kaapse Afrikaans se sprekers (in samewerking met die onderwysdepartement) self besluit oor hul instruksietaal. Maar dit sal baie gevaarlik wees om Kaapse Afrikaans as standaardtaal te aanvaar. Dit sal die ondergang vir beide weergawes beteken.

      Daarom moet Standaardafrikaanssprekers Kaapse Afrikaans as dialek en omgangstaal erken. Nie meer nie. In Nederland werk dit mos ook so.

Gee kommentaar!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s