BREKEND: Gyseling by Nederlandse nuusuitsaaier NOS [met beelde!]

Fotomonage van die aanhouding (Foto: NOS/YouTube)

In Nederland is ‘n gewapende man die studio’s van die nasionale nuus-uitsaaier NOS in Hilversum binnegedring. Dit het hy kort voor agt uur gedoen, op die oomblik dat die aand se nasionale nuus sou begin. Na minder as ‘n sekonde uitsaai, het die omroep oorgeskakel na die storingsein. Ek het op daardie oomblik vir die televisie gesit en gewag op die nuus, wat nie gekom het nie.

Die dader, ‘n 19-jarige gewapende man, het met ‘n bewaker op die redaksie gekom en hy het sendtyd geëis. Sy wapen was ‘n pistool met demper.

Toe die gewapende man binnegekom het, het hy ‘n brief vir die redaksie gegee, waarin hy dreig hy gaan verskillende doele opblaas in Nederland as sy eise nie ingewillig word nie. Hy wou in die NOS Journaal, wat regstreeks uitgesaai word, dinge sê.

Brief van die gewapende man. (Foto: De Telegraaf/NOS)

 

Hy is daarna na ‘n leë studio gelei, terwyl hy na die uitsaaistudio wou. Ondertussen het talle redaksielede die polisie se noodnommer gebel en het die polisie, gesien die gebeurtenisse by die Franse weekblad Charlie Hebdo, die laagste noodsituasie-toestand uitgeroep. Toe het dit in die leë studio gebeur:

‘n Tegnikus het die mikrofoon van die gewapende man aangesit, die kamera aangesit en die noodsaaklike verbinding met die regiekamer tot stand gebring. Die gewapende man en die tegnikus het so bietjie gepraat. Ondertussen het die ander redaksielede die gebou verlaat en het die polisie die gebou binnegekom. So paar minute later het die polisie die aksie beëindig:

Dit was nie sommer ‘n nuusredaksie van enige uitsaaier nie. Die NOS is die onafhanklike stigting wat die nuus op die Nederlandse staatstelevisie uitsaai. En die staatstelevisie se belangrikste oomblik is die NOS Journaal van 20:00 uur. En juis dit was die gewapende man se doelwit. Miljoene mense, gemiddeld tussen 2 en 5 miljoen mense kyk dié nuusprogram daagliks. Verseker as die nuus voor top programme soos Wie is de Mol (op Donderdag, 2 miljoen kykers) of Boer Zoekt Vrouw (op Sondag, 5 miljoen kykers) uitgesaai word.

Hoewel die gyseling na 10 minute verby was, het die probleme pas begin. Omdat die NOS die land se nooduitsaaier is, is dit darem baie goed beveilig. Dit is die bes beveiligde redaksie in die land. En juis omdat die gebou so goed beveilig is, is in dieselfde gebou ook die regiekamers vir die televisiekanale van die staatstelevisie. Dus toe die gebou ontruim moes word, het die Nederland se drie nasionale TV-kanale een-vir-een begin uitval.

En die kommersiële TV-stasie RTL4, wat ook oor ‘n belangrike nuusredaksie beskik, het geweier om ‘n nooduitsending te begin uitsaai, omdat die kanaal se top sepie, Goede Tijden, Slechte Tijden (daagliks 2 miljoen kykers) nie wou onderbreek nie.

Pas vanaf 20:50 kon die uitsendings weer hervat word, vanaf buite die regiegebou. Die regstreekse program Foto De Jong, wat eintlik om 20:30 op NPO2 sou begin, het eers om 20:50 begin, toe daar weer regie oor die kanale was. Eweneens het die NOS ‘n paar minute later ‘n noodprogram begin uitsaai op NPO1, vanuit die parlementêre studio in Den Haag.

Ondertussen is die program Nieuwsuur, ook van die NOS, op NPO2 (om 22:00 uur) geskrap en word daar die hele aand ‘n noodnuusprogram van die NOS op NPO1 uitgesaai. Dit gebeur dus nie vanuit Hilversum nie, maar uit Den Haag.

Ondertussen het baie mense op Twitter gegrap of dit ‘n aksie van die ‘Mol’ was. Die Mol is die persoon in die TV-program Wie is de Mol, wat om 20:30 uur op NPO1 sou begin. Die ‘Mol’ moet span-speletjies in die program ontwrig sonder homself te verraai. En laat nou net een van die NOS se aanbieders hierdie seisoen ‘n kandidaat in Wie is de Mol wees…

Nader die einde van die Afrikaanse koerante?!

Plaatje Nuus24 met Opinieplatform en MaroelaMedia

Die webwerwe van die meeste Afrikaanse koerante word gesluit. Die webwerwe van Beeld, Die Burger, Volksblad en Rapport word op 1 Oktober saamgebring in een betaalde webwerf, Netwerk24.

Dit beteken dat net Die Son se mobiele webwerf en Republikein se webwerf bly bestaan as gratis aanlyn Afrikaanse koerantwebwerwe. Dit is nog onduidelik wat daar gebeur met Nuusflitse, voorheen Nuus24.

Die berig kom skaars ‘n jaar nadat Beeld, Volksblad en Die Burger se nuwe betaalde webwerwe aanlyn gegaan is. Laasjaar is Nuus24 geïntegreer in die webwerwe om so ‘n konstante nuusvloei te skep.

Die berig dat dié koerantwebwerwe nou gesluit word, beteken dat die “nuwe” stelsel nie gewerk het nie. Media24, die eienaar van die koerante, het ‘n fout gemaak. En nou probeer hy dit regstel.

Maar weer gaan hy misluk. En die redes hoekom is steeds dieselfde…

Die mees gehoorde kritiek is dat Media24 te min voeling het met die wense en standpunte van sy lesers het. By die veranderings in die medialandskap wat betref die Media24-koerante is dit baie duidelik sigbaar: sonder konsultasie word oor sake besluit. Waar die betaalmuur op die koerantwebwerwe gelate geaksepteer is, het Media24 se planne om Volksblad se verspreidingsgebied te verklein ten gunste van Beeld groot weerstand opgeroep. AfriForum moes publieke druk gebruik om dit te keer.

Dit is duidelik dat Media24 geen lesers- of gebruikersklankgroep het nie. En as dit al bestaan, is dit seker magteloos.

Tweedens roep die stigting van Netwerk24 weer dieselfde vrae op. Waar kom die besluit vandaan? Wat is die redes om die koerante se webwerwe te sluit? Weer bly Media24 stil. Baie stil. En stil bly is die grootste fout in hierdie eeu van kommunikasie en gedeelde inligting.

‘n Derde fout is die merkname. Netwerk24 is ‘n nuwe handelsmerk, sonder enige aansien, beeld en krag. Nuus24 was maar seker die sterkste aanlyn Afrikaanse handelsmerk, totdat dit deur Nuusflitse vervang is. Nuusflitse was aansienlik swakker, aangesien dit geen eie tuiste gehad het, behalwe op Facebook, waar dit die blad van Nuus24 oorgevat het.

Dat die handelsmerke Beeld, Die Burger, Volksblad en Rapport aanlyn verdwyn, is ‘n slegte ding vanuit sakeperspektief. Van die handelsmerke is meer as 100 jaar oud en generasies het daarmee groot geword. Kyk hoeveel mense sê nog TV1 vir SABC1 of Afrikaanse Diens vir Radio Sonder Grense. Baie baie. Om ‘n handelsmerk te vestig is een van die moeilikste stappe in die sakelandskap. Buitendien gaan die koerante se naam nie skielik Netwerk24 wees nie. Dit maak dit net moeiliker om die handelsmerk te vestig. Dit is die vraag om ‘n mens nog die verband tussen die aanlyn handelsmerk Netwerk24 gaan sien en die ‘aflyn’ koerante.

Die stigting van Netwerk24 bevestig net hoe diep die vier koerante saamwerk. En Afrikaanssprekendes wil nie een mening hoor nie, hulle wil debat tussen verskillende menings sien. En om so’n volwasse te kan voer, het die Afrikaanse medialandskap meer diversiteit nodig, eerder as eendersheid.

Die stigting van Netwerk24 lyk nie ‘n oplossing te wees vir die huidige krisis by Media24 se Afrikaanse koerante. Ek dink dit gaan net vererger.

En Maroela Media lag.

Maroela Media aanlyn belangriker as Afrikaanse koerante

Nuus24, Opinieplatform en Maroela Media se logo’s (Foto: DAO)

Volgens data van Effective Measures en Alexa, twee instansies wat internetverkeer dop hou, het die webwerf van Maroela Media ‘n groter aantal besoekers as die webwerwe van die meeste Afrikaanse koerante. Maroela Media se webwerf trek meer besoekers as die webwerwe van Die Burger, Volksblad, Die Son, Rapport en Republikein (van Namibië). Slegs die webwerf van Beeld is trek meer besoekers.

Die oprigting van Maroela Media, wat hierdie week 3 jaar bestaan, was ‘n poging om die Afrikaanse medialandskap te diversifiseer. Tot 2011 was Naspers en die SAUK die grootste rolspelers in Suid-Afrika, terwyl Naspers (sedert 2007) ‘n 50% aandeel in Republikein het.

Die Afrikaanse nuusredaksies van die Naspers-koerante is ver met mekaar geïntegreer, dieselfde geld vir die SAUK se radio- en tv-redaksie. Dit beteken dat daar 3 groot nuusredaksies was wat onafhanklik van mekaar opereer: Naspers-blaaie, die SAUK en Republikein.

Maroela Media het daarin geslaag om suksesvol ‘n nuwe onafhanklike nuusredaksie op te rig. Dit is die eerste nuwe onafhanklike Afrikaanse nuusredaksie in meer as 35 jaar. Die vorige oprigting van ‘n nuusredaksie met betekenis, was Republikein, wat na die breuk met die Nasionale Party en die Nasionale Pers se koerante in Suidwes-Afrika, opgerig is.

Ander nuusredaksies het gekom en gegaan – maar geen van hulle kon ooit Naspers se Afrkaanse koerante verslaan nie.

Die opkoms van Maroela Media beteken dat daar sedert die ondergang van Perskor weer redelike mededinging is in die Afrikaanse mediawêreld.

Maar ons mag nie te vroeg juig nie. Naspers het nog steeds ‘n moerse oorwig in die koerantwêreld. En derduisende Afrikaanssprekendes het nog altyd geen toegang tot Afrikaanse nuus. En dit vererger net met die SAUK se besluit om die Afrikaanse nuus na SABC3 te skuif.

Buitendien is dit die vraag hoever Maroela Media se groei heeltemal danksy goeie joernalistiek kom. Die meeste nuus is naamlik berigte met slegs feite, wat nouliks joernalistieke diepgang het. Slegs die nuuskommentaar bied goeie insig in die nuusgebeure. Tewens die debatte is van goeie gehalte, maar ongelukkig is daar nog seker ruimte vir meer verskillende menings.

Tewens is die daling van die Afrikaanse koerante se webwerwe se populariteit ‘n logiese gevolg van die betaalmuur wat hulle nou op die webwerwe geïnstalleer het. Nie almal is lus om te betaal vir die nuus – inklusief hierdie skrywer. Dus party mense besoek nie langer die webwerf van die Naspers dagblaaie nie. Dit is die prys wat Media24 met die sluiting van Nuus24 betaal.

Maar dit is nog steeds ‘n groot opsteker vir Maroela Media is dat sy ook meer leserstalle trek as Rapport se webwerf, wat wel gratis is. Dit terwyl die koerant se beriggewing die laaste tyd weer verbeter.

Op die ou einde bied die opkoms van Maroela Media kanse, maar daar moet gewaak word vir ‘n tekort aan diepgang in die beriggewing. Maroela Media sal homself nog verder moet ontwikkel om daadwerklik ‘n kwaliteitdiens te word. Ek dink Maroela Media sal eerder ‘n tipe News24, met al sy susterwebwerwe moet word, om regtig ‘n belangrike speler in die Afrikaanse medialandskap te word.

En as jy nie van Maroela Media hou nie – die webwerwe van die dagblaaie Republikein en Die Son is nog altyd gratis. En Rapport kry elke Sondag ‘n spuit met gratis nuus.

En met geluk kan jy sommige artikels wat jy op Media24 se betaalde webwerwe kan lees, verniet op Republikein se webwerf lees… ^^

Redakteursnota: SAUK-besluit kan swartste dag vir Afrikaans nóg veroorsaak

Die SAUK se hoofkwartiere in die Uitsaaisentrum in Johannesburg (Foto: Mike Powell / Wikimedia Commons)

Ongeveer ‘n miljoen Afrikaanssprekendes sal die toegang tot televisieprogramme in hul taal verloor weens die besluit van die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie (SAUK) om die meeste Afrikaanse programme – inklusief die Nuus om 7 – vanaf SABC 2 na SABC 3 te skuif.

Die skuif moet per 14 Julie – na die einde van die FIFA Wêreldbeker Sokker – ingaan.

Die probleem is dat SABC 3 se sein minder wyd versprei word. So word SABC 3 se sein in die Noord-Kaap deur slegs 1 uitsaaitoring (in Alexanderbaai) uitgesaai. Die ander 13 uitsaaitorings in die Noord-Kaap saai nie SABC 3 se sein uit nie.

SABC 2, wat tans die meeste Afrikaanse programme uitsaai, word deur alle uitsaaitorings in die Noord-Kaap uitgesaai en het selfs ‘n beter dekking as SABC 1, wat deur 5 van die 14 uitsaaitorings uitgesaai word.

Dit beteken dat ongeveer ‘n half miljoen Afrikaanssprekendes in die Noord-Kaap die toegang tot televisie in hul taal sal verloor.

Die Wes-Kaap wat aansienlik meer Afrikaansprekendes tel as die Noord-Kaap, word ook hard getref. Die amper alle uitsaaitorings saai SABC 2 se sein uit, terwyl ongeveer 65% van die uitsaaitorings SABC 3 uitsaai. Dit beteken dat die aantal uitsaaitorings in die Wes-Kaap wat Afrikaanse programme uitsaai van 43 na 30 sal daal.

In die Oos-Kaap is die voetspoor van SABC 3 ook aansienlik kleiner. Waar 37 uitsaaitorings SABC 2 uitsaai, saai slegs 21 die sein van SABC 3 uit. En ‘n heel klompie van die torings wat nie SABC 3 uitsaai nie, staan juis in die westelike deel van die Oos-Kaap, waar Afrikaanssprekendes in die meerderheid is. So saai die uitsaaitorings in byvoorbeeld Willowmore en Burgersdorp geen SABC 3 uit nie.

In totaal sal die aantal uitsaaitorings in die Noord-, Oos- en Wes-Kaap wat Afrikaanse programme uitsaai daal van 94 na 52.

Omdat die 3,6 miljoen Afrikaanssprekendes in die gebied nie eweredig versprei is nie – danksy die bestaan van stede en dorpe, sal ‘n realistiese skatting sê dat ongeveer ‘n miljoen Afrikaanssprekendes die toegang tot televisieprogramme in hul taal sal verloor.

Wat besef moet word, dat hierdie Afrikaanssprekendes geen ander toegang tot media het nie, omdat hierdie mense dikwels te arm is om ‘n koerant te koop en geen toegang tot internet kan bekostig nie.

Dit is absoluut skokkend dat die SAUK so’n besluit neem. Dit is dalk – die transformasie van skole, universiteite en publieke ruimtes ten spyt – die swartste dag vir Afrikaans nóg.

Die redaksie van Die Afrikaanse opinieplatform vra die SAUK dringend om sy besluit te herroep.

Wysiging: Die SAUK ontken hy het besluit om sy Afrikaanse programme na SABC 3 te skuif. Die redaksie van Die Afrikaanse opinieplatform wys daarop dat die Nuus om 7 hierdie week van SABC 2 na SABC 3 sou skuif. Dit het egter nie gebeur nie, maar die program het bloot verdwyn, ten spyte van die aangekondigde skuif. Dit beteken dat ons moet wag tot 14 Julie om te sien wat die ontkenning en beloftes van die SAUK werklik werd is.

Wadehel Rapport?!

Rapport Nuusbus (Foto: Morné van Rooyen/Afrikaanse Wikipedia)

Almal wat my ken en sommige wat my nie ken nie sal weet dat ek weinig sin het aan sogenaamde ‘regse’ Afrikaner politiek. Hoekom presies jy water reservoirs wil besoedel en duisende der duisende onskuldige kinders, volwassenes en diere siek wil maak omdat jy ’n probleem het met die African National Congress se leierskap gaan absoluut my verstand te bowe. Ek is dan ook nie ’n groot aanhanger van instellings soos die sogenaamde Boeremag, die Boerekrisisaksie of PRAAG nie. Net anderdag toe gaan probeer ek ’n stuk lees van doktor Dan Roodt, wat ek wonder bo wonder deurgelees gekry het.

Dit lyk my mens moet oppas om van die ou te verskil. Want as jy hom gaan kwaad maak gaan hy ’n ellelange tirade teen jou skryf in die styl van: Barend is baie dom. Hy is uiters dom. Hy is regtig onnosel dom. Hy is laer as ’n primaat dom. Hy het nie kwalifikasie aan ’n Franse universiteit nie. Hy is verskriklik dom en praat nie goeie Afrikaans nie omdat hy so dom is.

Dit is om en by hoe die doktor oor Pierre de Vos geskryf het.

As sulks het ek nog nooit deelgeneem aan enige ‘boikot NASPERS’ veldtog nie, hoewel ek graag die koerante kritiseer wanneer ek voel kritiek moet uitgespreek word (en vandag is ook een van daardie dae). Dit sal vir my net eenvoudig ’n tragiese dag wees as die Afrikaanse koerante verdwyn.

Maar daar kom tog tye wat mens nie anders kan as om die gevoel te kry dat NASPERS wel soms hulle lesers teister, soos wat al hierdie ‘Boikot NASPERS’ mense heeltyd beweer nie. Die Rapport wat ek vandag gekoop het, het volgens my een van die swakste stories as voorblad gekies wat hulle moontlik kon. Die Waterkloof 4. ’n Video. Ja, dit sal miskien gewerk het op ’n geelpers koerant se voorblad, maar die hele saak laat ’n suur smaak in die mond.

En nee, dis nie nuuswaardig nie. Gaan ’n mens terug na die wortels van hierdie saak, dan is die gedrag van die menere en ook hulle families geensins onverwags of ’n skok nie. Trouens, ek dink hierdie mense geniet al die aandag wat op hulle gevestig word. Hulle het daardie jare al ’n ‘cowboy boyband’ beeld gehad. En geen berou getoon nie, en skynbaar niks omgegee nie.

Daar is baie mense soos die Waterkloof 4. Hulle is nie uniek nie. Maar mens sukkel om te verstaan hoekom juis húlle aandag kry. Ek kry die indruk dat Rapport dalk ’n persoonlike vendetta teen hierdie mense het. Of so nie, is dit dalk grootliks ’n poging om die koerant te verkoop met sensasie. Jare gelede, toe die daad gebeur het waarvoor hulle uiteindelik tronk toe was, was die storie wel nuuswaardig. Vandag is dit nie meer nie. Dis ’n verkiesingsjaar. En hierdie menere, oppervlakkig soos wat hulle ook al mag wees, het wel darem hulle vonnis uitgesit. Daar is mense wat losgelaat is omdat hulle kamstig ‘dodelik siek’ is, en dan mense aanrand en doen net wat hulle wil, alles omdat hulle die regte vriende het.

Wat my bo alles pla van hierdie voorbladstorie in vandag se Rapport, is die feit dat dit op die grens le van die stereotipering van wit blanke Afrikaanse mense. Dit was ’n nare ding wat gebeur het, en was ’n simboliese uitspeling van hoe mense die land gesien het daardie jare, en tot ’n groot mate vandag nog sien. Dit was die jaar 2007, en Thabo Mbeki was nog ons land se president. Mbeki het altyd gepraat van die 2 ekonomiese groepe in Suid-Afrika, een ryk en grootliks wit, die ander, grootliks arm en swart. Sedertdien het die land nie veel verander nie. Die gemiddelde swart Suid-Afrikaner verdien minder as R2500 per maand, teenoor die gemiddelde blanke wat om en by R 10 000 per maand verdien.

(Laasgenoemde, so terloops, vermoed ek, is die grootste enkele rede hoekom die Demokratiese Alliansie regstellende aksie en Swart Ekonomiese Bemagtiging steun, dinge wat soortgelyk is aan die ou Suid-Afrika, waar werksreservering aan die orde van die dag was. Die feit dat doktor Pieter Mulder so lang klag in die koerant hieroor geskryf het is nogal baie ironies)

Maar die Waterkloof 4 is NIE verteenwoordigend van die tipiese blanke Afrikaanse witmens in Suid-Afrika nie.

Ter versagting moet ek sê van Rapport, dat daar op die kwessie van geld gehamer was. Die woord ‘geld’ verskyn dan ook in die subopskrif. Daar word nie van ras in hierdie stuk gepraat nie, maar ongelukkig het hierdie saak baie baie bagasie en staan dit in die skadu van rassespanning.

In kort is dit nie ’n goeie voorblad nie. Hierdie storie verdien nie die voorblad nie. Dit is sensasioneel en tog eintlik vervelig. Natuurlik is nie alle ryk Suid-Afrikaners se gedrag soortgelyk nie, maar die van hulle wat so wil maak kan, want hulle het die geld. Hulle kan ook soesji eet van kaal vroue se lywe, en dié doen hulle ook, die wat voel hulle wil.

Ek hou daarvan om Afrikaans te kan lees, maar was dit nie vir die feit dat ek graag die Loopbaan gedeelte van die koerant wou sien nie, dan het ek nie vandag die koerant gekoop nie.